Aktueel

 

 

 

UGO: Deurlopende evaluerings-evolusie

 

 

Johan Store

 

TEN spyte daarvan dat party hoërskole in 2001 geweier het om uitkomsgebaseerde onderwys (UGO) te implimenteer, het die Hoërskool Brackenfell reeds toe al besluit om daarmee te begin. Gevolglik beskik ons oor ‘n voorsprong, omdat alle hoërskole nou ge-dwing word om dit te implimenteer. 

 

Nadat daar ‘n bietjie rondgevra, rondgesnuffel, rondgeloop en rondgesukkel is, het Re Vera uiteindelik by die “UGO-mamma van HSB”, alias mev. Trudie Badenhorst uitgekom. 

 

Aanvaar onderwysers die nuwe benadering tot onderwys en is hul entoesiasties daaroor?

 

“Ja, maar dit is eerder ‘n bang-entoesiasme. Ons moet nog aan die veranderinge gewoond raak.”

 

Ondervind leerkragte tans, nadat UGO reeds ‘n geruime tyd geïmplimenteer is, nog groeipyne?

 

“Daar is steeds soms onduidelikhede oor al die nuwighede.  Die gr. 9’s skryf byvoorbeeld aan die einde van dié jaar ‘n eksterne eksamen en die reëlings is maar nog vaag. Die onderwysers wat verlede jaar nie gr. 8’s gehad het nie, moet nou al die groeipyne deurmaak wat ons verlede jaar ondervind het, maar gelukkig kan ons nou help.”

 

Hoe kan  die hele konsep van individuele aandag werk in ‘n groot klas met sulke kort periodes?

 

“Die periodes is lank genoeg, die probleem lê net by die groot klasse.  UGO sou meer haalbaar gewees het as klasse bv. slegs  vyftien leerders groot was.”

 

Watter aspek van die stelsel kan leerders moontlik benadeel?

 

“Ek sal nie sê die stelsel benadeel enige leerders nie.  Hulle kan nou eerder oorpresteer as onderpresteer. Dié wat nie hul deel doen nie of net lui is, kan wel steeds agter raak.”

 

Het onderwysers spesifieke werksessies bygewoon om hul voor te berei vir die veranderinge?

 

Groepe onderwysers het verlede jaar deurlopend sulke sessies bygewoon. Dit was wel nie altyd funksioneel nie, soms selfs oneffektief. Ons moes maar self baie navorsing doen.”

 

As u iets aan die stelsel kon verander, wat sou dit wees?

 

“Die implimentering kon beter beplan gewees het. Dit sou ook gehelp het as die sillabus-indelings duideliker was.”

 

Maar die groot klasse hoef nie noodwendig teen ons te tel nie.  Mnr. Anton Meyer, hoof van die Laerskool Groote Schuur in Kaapstad, sê: “Engeland met sy klein klasse is byvoorbeeld laag op die lys van toppresteerders. Die gehalte van onderwys hang grotendeels af van die onderwysers se vaardighede.”

 

 

Dood, kieme dood!

 

 

Lelanie Laing

 

 

ONS is was en ons bly in jou oor, ons is was en jy sal van ons hoor. Ons is Paramabrankas!

 

Op 22 Januarie 2002 is BHS deur ‘n laerskoolepidemie besmet. Dit is veroorsaak deur die aankoms van Paramabrankas. Die leerlingraad het die epidemie probeer stop deur  waterkaskenades te hou.

 

Water, eiers en meel is as teenmiddels teen die epidemie gebruik. Dit het in verskillende vorms voorgekom: eiers vang, ‘slip a slide’, oor hooibale spring en lekkers uit meel probeer kry met hulle monde, is maar net ‘n paar voorbeelde.

 

Die leerlingraad het deur die loop van die dag meer uitgevind oor die epidemie. Hulle het tot die  gevolgtrekking gekom dat die kieme deur die oë versprei, daarom moes hulle maar liewer afkyk. Ongelukkig was daar ook ‘n paar Paramabrankas wat stuiptrekkings gekry het en “per ongeluk” die leerlingraad terug gegooi het met die eiers. Die rebelse Paramabrankas is sommer gou-gou reggesien. Die oorgrote meerderheid het darem heeltemal herstel en die dag geniet.

 

So het die gr. 8’s, alias Paramabrankas, oor die Parakaskenades gevoel:

 

Johan Visser Gr.8A1

Dit was baie nice en het party van ons terug aarde toe gebring.

 

Callie v.d. Merwe Gr. 8A3

Dit was duidelik en ek het dit baie geniet!

 

Helecia Clausen Gr.8A1

Dit was baie lekker. Dit help ons om mekaar beter te leer ken.

 

Die doopkapteine, Jorita en André, se advies van kophou, moedhou, aanhou, uithou, inhou en jou mond hou, was baie, baie wyse woorde. Hopelik voel al die gr.8’s nou soos volwaardige Brakkies.

 

 

 

A-Kandidate baan nuwe weg

 

 

Lise Sandenbergh

 

 

DIE matrieks van 2001 het ‘n laat verjaarsdag geskenk aan die HSB gegee in die vorm van agtien, nee neëntien, gemiddelde 80-persenters. 

 

Neëntien gemiddelde A’s is die meeste wat die skool nog ooit gesien het.  In 2000 is sestien A’s behaal en in 1999 12.

 

Die Re Vera -redaksie is veral baie trots op  Lando Howard, Jennifer Honing, Teresa Cumming en Annebél Basson wat vir die afgelope vier jaar deel  van die redaksie was.

 

Teresa Cumming is 2001 se Dux-leerling. Sy het 94 % behaal (lees ook die berig oor Teresa op bl. 6).

 

Lando Howard sê dat hy uitsien na ’n “nuwe lewe” as ’n LLB-student aan UNISA. “My teachers played the main role. I wanted to end off well what I started. I think I wanted to leave a legacy behind for someone to follow.”

 

Jennifer het ingeskryf vir die  BSc-kursus op Stellenbosch.  “I never gave up and persevered right to the end. I kept  on believing that I would achieve an A.” 

 

Annébel is gekeur om Arbeids-terapie te studeer op Stellenbosch. Die redaksie wens elkeen voorspoed toe vir die toekoms.

 

 

 

 

Ontdek Grafologie: karakterontleding uit handskrifte

 

Karin Lötter

 

Het jy geweet dat jy deur ‘n enkele briefie in ‘n persoon se handskrif, ‘n magdom van persoonlikheidseienskappe kan ontdek?  Al wat jy hoef te doen is om grofologie in te span.

 

Verbeel jouself:  deur ‘n enkele liefdesbriefie van ‘n bewonderaar te ontvang, kan jy bepaal of julle goed by mekaar sal pas, of hy lojaal is of dalk net eenvoudig ‘n hartebreker.

 

Jean Hyppolyte Michon het himself iets soortgelyks voorgestel en na ondersoeking, het hy hierdie studie in 1875 grafologie gedoop.  Hierdie Fransman het ontdek dat mense van Suid-Indië tot in China en later Griekeland, reeds sowat tweeduisend jaar voor Christus persoonlikheidseienskappe uit handskrifkenmerke aangeteken het.

 

Grafologie, ook bekend as handskrifkunde, kan verklap of iemand die waarheid praat, wat ‘n persoon se talente en swakpunte is en vir watter beroep hy behoort te mik.  Jy kan selfs van Grafoterapie gebruik maak en so van negatiewe aspekte in jou karakter ontslae raak deur eenvoudig anders te begin skryf!  Binne dertig dae kan resultate verwag word.

 

Enigiemand kan ‘n persoonlike studie doen met gemak omdat soveel boeke daaroor beskikbaar is.  Hoe meer inligting u bekom, hoe meer akkuraat sal u analises wees.

  ‘n Mens kan selfs ‘n beroeps-grafoloog word!

 

Gebruik hierdie basiese riglyne (uit honderde wat bekend is)  en vind meer uit oor jouself of enigiemand anders deur sy handskrif te ontleed:

 

‘n Persoon wie se skrif oorleuen na regs, is positief, leef vir die toekoms en is sensitief tot mense se gevoelens.  Indien dit na links oorleuen, is die persoon pessimisties, waarskynlik onbetroubaar en agterbaks.

 

Mense wie se logiese denke oorheersend is (linkerbrein domineer), is geneig om klein en presies te skryf, elke letter afsonderlik gevorm.  Die kreatiewe mens (dominerende regterbrein) se skrif is aantreklik en gerond, die hoofletters versier en selfs kantlyne kom voor.

 

Indien jy opgeboude woede in jou sisteem het, sal jy hard druk met jou pen terwyl jy skryf, terwyl onvoltooide stele van g’s en j’s dat iets in die persoon se lewe kort.

 

‘n Dominerende mens se t-strepie sal afwaarts wys van links na regs.  As die strepie hoog geskryf word, is ‘n goeie selfbeeld betrokke, ‘n lae strepie kom neer op ‘n lae selfbeeld.  As die strepie langer is na regs, kan die persoon maklik buierig word.  Meer lengte na links is iemand wat lui is en werk tot op die laaste sal uitstel.

 

Lojaliteit is kenmerkend indien die kolletjie op die ‘i’ of ‘n punt geen stertjie in enige rigting toon nie.  Indien dit met ‘n ronde sirkeltjie gemaak word, probeer iemand uitstaan in sy portuurgroep.  Algemeen onder adollesente.

 

‘n Onafhanklike denkerhet kort ‘t’ en ‘d’ steeltjies.  As die m’s, n’s en h’s baie skerp punt, het die persoon vinnige denke wat situasies dadelik kan opsom.

 

Hou egter in gedagte dat hierdie riglyne bloot veralgemenings is en dat uitsonderings wel voorkom. 

 

 

Sokkie! Wat se sokkie?

 

 
Hanco Loubser

 

Vrydagaand. Sewe uur. Die nuutste klerereeks pronk voor die Hoërskool Brackenfell en Tygervallei Sentrum het weer ‘n au de toilette uitverkoping gehad. Almal is reg om te sokkie.

 

Maar dit was 5 jaar gelede….

 

Sokkies is verbied en die gevolg is dat leerling hul aandag op “clubs” vestig. By hierdie kuierplekke is daar geen toesig nie (behalwe vir die “bouncers”- wat ook maar net staan en groot lyk) en dwelms en drank (D&D) is meestal vrylik bekombaar.

 

Sommige leerlinge stel nie belang in hierdie middels nie en het net lus om heupe en arms te swaai op die ritme van die musiek. Die meeste clubs laat egter slegs individue toe wat ouer as 18 is. So, waarheen kan tieners gaan om ‘n aand te geniet?

 

Mnr. Ossie Theron, skoolhoof, se mening is hieroor gevra: “Ek het nie ‘n probleem daarmee nie, die kinders moet net na die sokkies toe kom.”

 

Die reaksie van die leerders was egter oor die algemeen dat sokkies by die skool te veel reëls het, dat hulle te gou huis toe moet gaan en dat die musiek nie aan hulle vereistes voldoen nie.

 

Back