Sport

 

 

Interhuis berei atlete voor vir Ko-ed

 

 

Lucille Hoffman

 

 

SKOTE het geklap, wedlope is voltooi en wenners aangewys tydens die jaarlikse Interhuisbyeenkoms. 26 Rekords is gebreek en 2 geëwenaar. Trofees vir beste prestasies is verower deur: Dimitri Janari (o.17 200m), Jolandi de Villiers (beste junior prestasie, o.15 800m), Quinten Kearns (beste junior, o.15 3000m), Celeste Marais (beste prestasie, o.17 spiesgooi ), Kobus Rossouw (beste prestasie, o.19 verspring).

 

In die kragmeting tussen die onderwysers en oudleerlinge tydens die 4 x 100 m aflos, het die onderwysers gewys dat hulle enige geveg met ‘n paar honderd meter sal wen.

Met die aankondiging dat Brink die sangbeker gewen het, het die dirigente van dié span mnr. Theron amper uit die grond gestorm om hulle prys op te eis. Cilliers het vir die soveelste keer gewys hulle kán maar aan atletiek deelneem.          

 

Kobus Rossouw en Leorine de Wet is na ‘n besige dag op die atletiekveld aangewys as Victor en Victrix Ludorum, terwyl Yolandi Stemmet en Heine Thiart  onderskeidelik die junior titels ingepalm het.

 

Rekordbrekers is:

Leorine de Wet (o.19 driesprong, 400m hekkies), Kobus Rossouw (o.19 verspring, hoogspring, 110m hekkies, 400m hekkies), Monique Froneman (o.19 gewigstoot, diskus), Annerette la Grange (o.19 hamergooi), Dimitri Janari (o.17 200m, 100m), Erin Gibson (o.17 800m), Leandré van der Merwe (o.17 800m, 400m hekkies, 1500m), Marisa de Kock (o.17 hamergooi), Jolandi de Villiers (o.15 400m, 800m), Quinten Kearns (o.15 800 m, 1500m, 3000m), Alconray Botha (o.15 gewigstoot), Ruan Gie (o.14 100m hekkies), Riaan de Wet (o.14 gewigstoot), Yolandi Stemmet (o.14 200m hekkies)

 

Mnr. Louis Stockigt, atletiekafrigter, sê:  “Dit gaan moeilik wees om ons atlete tydens die Ko-ed te klop. Veral ons meisiespan is in puik vorm.”

 

 

 

 

Sportprofiel –Mario Olivier

 

 

Lucille Hoffmann

 

MARIO Olivier het nou al ‘n geruime tyd lank bewys dat hy krieket kan speel. Vroeër vanjaar was hy op ‘n kriekettoer na Nederland om af te rig en ondervinding op te doen. ‘n Voormalige Wes-Indiese openings-kolwer en bouler, Nolan Clark, het aan hom ook die fynere kunsies van kolfwerk en boulwerk geleer.

 

Volgens hom is die Nederlanders baie hulpvaardig en gasvry. Hy het by groot krieketondersteuners tuisagegaan en het goed bevriend geraak met hul seun. Die ondervinding en ervaring wat hy daar opgedoen het, kom hom nou baie goed te pas.

 

Sy loopbaan het al begin nog voor hy in die BHS was. In sy o.16 jaar in Pretoria het hy sy Noord-Transvaal kleure verwerf en besluit om met krieket aan te hou. Duidelik kan ons nou sien dat hy die vrugte van hierdie besluit pluk. Allan Donald is sy krieketheld. “Omdat hy hard gewerk het en nog steeds alles doen om die beste bouler in die wêreld te wees.”

 

Sy toekomsideale is om eendag vir W.P. en Suid-Afrika te kan krieket speel. Sy ma, pa en mnr. Jannie Muller is uitgesonder toe ek vra van wie hy ondersteuning kry.

                         

Gunsteling kossoort: Pizza en Pasta

Gunsteling tydskrif: Enige sporttydskrif

Gunsteling tydverdryf: Oefening en om krieket op T.V. te kyk.

 

Dit is vanselfsprekend dat daar ‘n blink toekoms op hierdie Brakkie wag. Hy het dan al selfs sy hare afgeskeer, net om te verseker dat die windweerstand nie sy krieketspel belemmer nie.

 

 

 

Christa en Wayne slaan kishoue

 

Josia van der Westhuizen

 

 

Re Vera het met twee van Brackenfell se beste tennisspelers, Wayne Nikiforou en Christa Potgieter gesels. Wayne speel tennis vandat hy 7 jaar oud is. Hy oefen twee dae per week vir drie ure lank. Van sy grootste prestasies was om tweekeer WP-kleure te verwerf. Hy is ook elke jaar, sedert o.10, uitgenooi om vir die WP-uitnodigingspan te speel. 

 

Na skool wil hy aan die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer en dan ook aanhou met tennis. Sy leuse is om nooit moed op te gee nie.

 

Christa het tennis-afrigting gekry vandat sy 5 jaar oud is en is altyd deur haar ma aangemoedig. Een van haar grootste prestasies was om in die dubbels finaal van die Seralon-toernooi te speel. Sy is tans Hoërskool Brackenfell se nommer-een-speler.

 

Vonnie Mostert, haar afrigter, speel ’n baie belangrike rol in haar tennisloopbaan.. Haar grootste sportheld is Laten Hewitt en behalwe tennis, swem sy ook graag.

 

 

 

Umtata op horings geneem

 

 
Lucille Hoffmann

 

IN die September-vakansie is 11 landloopatlete op ‘n toer na Umtata om te gaan deelneem aan die SA-Kampioenskappe. Terwyl hierdie atlete op ‘n groot W.P. bus geklim het, het 9 Brakkie-ondersteuners hulle agterna gesit in 2 skoolbussies.

 

Na 17 ure se ry, het ‘n klomp moeë brakkies hulself begin inspan om aan die belangrikste kompetisie van die landloopseisoen deel te neem.

 

Donderdag was onsettend warm en daar het nie minder nie as twee atlete in elke resies flou geword. Gelukkig het geen van ons atlete enige moeilikheid ondervind nie. Elke Brakkie was suksesvol in sy/ haar wedloop. Ouinton Kearns het ‘n uitsonderlike 6de plek in die o.14 afdeling ingepalm.

 

Terug by die koshuis in Oos-Londen het uitgeputte atlete en ondersteuners skuins gaan lê. Daar was darem nog tyd vir ‘n paar malles om die koue van die swembad aan te durf.

 

Die res van die toer was baie ontspannend. Die atlete is op uitstappies na, Wildernis, Heroldsbaai en Victoriabaai. Daar is ook deelgeneem aan ‘n 10km pretloop. Almal het dit lewendig tot by die wenstreep gemaak, die atlete en die ondersteuners.

 

So ‘n toer kan volgens mnr. Stockigt, landloopafrigter, net op een manier beskryf word: “Dit was cool!”

 

 

Back