My Rock Se Soom

'n Baie bekende denker het eens
die volgende kwytgeraak: "Die
mensdom bestaan uit twee maklik herkenbare tipes mense: Rockers en Ravers my
ou!".
Goed, goed, ek weet dis nie
die tipe aanhaling wat jy aan die begin van 'n prysuitdeling-toespraak sou hoor
of lees in die Reader's Digest nie...of enige ander leesstof buiten dié
in jou hand (as dit nie vir my minder kreatiewe denkbeeldige denker was nie).
Die punt bly staan dat die
stereotipe Raver en die stereotipe Rocker nie juis op dieselfde snaar tokkel
nie. Wil ek enigeen hierdeur beledig? Natuurlik nie! As ek dit wou doen, sou ek
die gesofistikeerde rock-liefhebber vergelyk het met die slymerige,onkreatiewe,
stroom-af-swemmende (met 'n tekort aan 'n basiese denkpatroon) pop-aanhanger.
Die kwessie wat egter hier in
die lug hang, is die feit dat rock te maklik met rave/trance/house vergelyk
word. ie dat dit dieselfde klink nie, nee, dit word nie gesê nie, maar daar
word amper voorgestel deur sommige mense dat rave net soveel musiek is as rock…
EKSKUUS?!? Rave mag dalk die
manier hê om jou op jou voete te kry en te laat party, maar ek het nog
nie die soul in die goed gesinkroniseerde beats gehoor nie. Sien, ek
beledig nie rave nie, It's like a garden: I dig it sometimes. Maar rock
en rave is elkeen in 'n klas van hul eie.
Ek
sit vir Derrick the Bandit af as sy klanke per abuis deur my draadloos syfer.
Vir my is dit nie luistermusiek nie (dalk in 'n kar met 'n lekker system), maar
party-musiek. En rock...rock het soul...

JERRY Springer se sirkus het nogal baie daarvan.
Sommige flieks se blou driehoekies waarsku ons dat dit in die film voorkom. En
die skoolgronde is ook ongelukkig nie ver agter nie, daar kry jy oorgenoeg
daarvan: Vloekwoorde. Musiek sal dan mos nie daarsonder wees nie, vervlaks.
Vir sommige van ons mag dit dalk nie aanstoot gee as
‘n liedjie vloekwoorde bevat nie. Ons mag dalk selfs sê dat dit die gevoelens
van die kunstenaar beklemtoon... wag ‘n bietjie, kunstenaar? Is dit dan ‘n kuns
om die f-woord te gebruik? Dit is ook nie juis ter wille van die rym nie, (met
hoeveel woorde rym dit tog werklik en rym die meeste liedjies in elk geval
deesdae?). Dus kan die "intelektuele digter" as rede kan ook maar
uitgeskakel word.
Is dit dan werklik nodig? Liedjies kan steeds dieselfde
effek hê (indien nie beter nie) sonder die alewige gevloekery. En as dit gaan
daaroor dat die, kom ons sê maar, kunstenaar ‘n mark wil skep vir
sy/haar musiek, ag shame. Weet hulle dan nie dat goeie musiek dit ook
kan doen nie? Of baie ander goed: ons almal weet hoe baie CD's Britney Spears
verkoop (gmf...) en daar is geen vloekwoorde betrokke nie - silikoon is mos nie
‘n vloekwoord nie.
Ek is uiters teleurgesteld in Blink 182 se nuwe
giere. Die peper het blykbaar opgeraak met die opneem van hulle nuwe CD, Take
off your pants and jacket. Hoekom dan nou ouens? Enema of the state was
duidelik, en dit sonder alewige barheid (goed, die naam van die CD mag dalk ‘n
bietjie gagga wees). Maar vloek is nie die dêng wat musiek laat werk nie!
Kom ons maak almal na(ar)
EERS klap ek my radio so ‘n paar keer, dalk is dit
stukkend. Dis egter tevergeefs, moet
die uitsending wees, want Queen het nog nooit so siek geklink nie. Dalk was hierdie opname gemaak in Freddie
Mercury se laaste dae...
Tot my verdriet vind ek egter uit dat dit ‘n cover
is! En dit nie eers deur Rock-amateurs
nie, nee, dis maar net die seuntjies van die groep Five. Ironies dat hulle toe juis sing: "We will rock you". Vertrou ‘n boyband om enigiets te kan
neul. Om alles te kroon moes ek hoor
dat Brian May, oud kitaarspeler vir Queen, gehelp het met die
opname. Brian, soms moet slapende honde
net nie wakker gemaak word nie, veral nie as die slapende honde met die
ontwaking skielik hondsdolheid het nie.
Die kom-ons-mors-ander-mense-se-liedjies-op-epidemie
het egter ongelukkig nie daar gestop nie.
Nog ‘n boyband, Westlife, se klaagliedere was blykbaar aan
die opraak en hulle besluit toe om "Uptown Girl" te
transformeer (en my sodoende te irriteer).
Later moes my ore verder bestraf word deur Gerri Haliwell se hervorming
van "It's raining men".
Kan een van die mans wat dan so uit die hemel neerstort haar nie tref
nie? Asseblief!
Wat inspireer kunstenaars om ander mense se liedjies
oor te doen/doem? Of het inspirasie
absoluut niks daarmee uit te waai nie?
Daar is soveel dinge om oor te sing, soveel note om te gebruik in soveel
verskillende maniere. Daar is selfs
daardie dingetjie genaamd, ag, wat noem ‘n mens dit nou weer... uhm...
KREATIWITEIT!
Ja, daar is uitsonderings waar geniale kunstenaars
dit nou wel kon regkry om ‘n liedjie suksesvol ‘n nuwe baadjie aan te trek, of
om dit ‘n heel nuwe uitrusting te gee.
‘n Voorbeeld hiervan is die Fugees se meesterstukke: "No Woman no cry" en "Killing
me softly" so ‘n paar jaar gelede, want hierdie tranetrekkers het jou
nie (wanhopig) laat ween nie.
Onthou net:
‘n Skildery deur Vincent van Gogh kan nie deur ‘n kleuterskoolklas
perfek gekopieër word nie, maar in sommige gevalle kan die eindproduk wel op
die yskas se deur uitgestal word.
Koos
Komkommer
‘n Tydjie gelede vra ek vir ene Koos Komkommer
"Die Groot Vraag": van watter
soort musiek hou hy? Ons eerste
ontmoeting verander dadelik in die laaste een, na sy ondeurdagte antwoord: Ag, hy hou sommer van enige musiek. Koos!
Weet jy wat jy sê? So jy sal ‘n CD getiteld Kill Everything van die Manifesting
Metal Maggots koop, maar terselfdetyd ook luister na Liewe Heksie
sing oor Blommeland?
Goed, so Koos Komkommer bestaan nie werklik nie, hy
is slegs ‘n veralgemening van daardie soort persoon wat byvoorbeeld nie eers
weet dat daar ‘n verskil tussen Rock en Pop is nie. En ek ontmoet
hulle ongelukkig gereeld. ‘n Bietjie musieksmaak maak nie dood nie, hoor. Dit sou my bekommer het as ek ‘n Koos
Komkommer was.
Het jy al ooit ‘n dag in jou lewe sonder musiek
beleef? Musiek is deel van die lewe. Dis een van die min dinge wat deur die
eeue heen (ten spyte van verandering en verskeidenheid) nog altyd daar is. Dis
teenwoordig in alle lande, gelowe en kulture - van die begin af! Musiek is
inderdaad in die mens ingebou, dis een van die vele dinge wat ons van diere
onderskei. Waar het jy al ‘n bobbejaan in die veld gesien rock op ‘n
twaalfsnaar-akoestiese kitaar?
Wat probeer ek sê? Moenie ‘n Koos Komkommer wees
nie, brei jou kennis van musiek uit, dis voorwaar ‘n voorreg. Moet jouself nie
beperk tot wat jy oor die radio hoor in daardie uur wanneer jy toevallig met ‘n
halwe oor luister nie. Daar is baie meer om van te kies as wat jy dink, en soos
jou kennis verbreed, sal jy dan ook besluit waarvan jy presies hou.
Ek wens ek kon sê dat ek - toe ek in die baarmoeder
was - slegs geskop het as ek ‘n vals noot gehoor het. Of dat my eerste woorde
"Rock On" en my eerste vaste voedsel ‘n musiektydskrif of
kasset was. Musieksmaak groei en ontwikkel egter reg deur jou lewe.
Hopelik leer jy ook in jou "pelgrimstog" deur die musiekwêreld dat die soort wat gewoonlik meer instrumente as rekenaars bevat en waar jy meer as twee woorde kan uitmaak, werklik die soort is wat nooit uitsterf of vergeet word nie.